Die Troue

Die Troue

Die Witte Duif Gasteplaas naby Koster is waar die troue plaasvind.  Gaste daag al van Vrydag af op, ander Saterdag oggend, Koster is ongeveer uur en ‘n half se ry vanaf Johannesburg en Pretoria.
Dis ‘n intieme groepie van familie en vriende en almal geniet die weersiens en lang stories word vertel.Proviand is saamgebring, water, mix, whisky, wyn, rooiwyn veral.  As die glase te min raak word daar sommer in ‘n koffiebeker geskink.
Whisky en rooiwyn vloei soos familie en vrienskap bande hernu word.
Teen die tyd wat gereed gemaak word vir die troue, het die proviand verskuif, van die bottel na die lyf.
Die plek waar die troue plaasvind is so ‘n paar kilometer van die verblyf en onthaal area. Die laatherfs namiddag is om ons, die lang gras is ‘n dowwe goud, die son agter ons.  Ons kom by die plek aan waar die huwelik bevestig gaan word.  Dis ‘n ou plaasdam wat toegebou is en dak opgesit is.  Dis baie mooi  opgetooi aan die binnekant.  ‘n Fontein van sjerrie omring met sjerrie glasies staan en wag vir wanneer die huwelik bevestig is.
Die kleurskema van die troue is wit en swart.  Almal lyk tog te deftig.
Voordat die bruid opdaag neem die gaste hulle sitplekke in.  Die  bruid se tannie, Christine en haar man Herkie sit agter en hulle seuns, Jan en Andries met hulle vrouens sit so twee rye voor hulle.  Die gaste sit in afwagting en wag vir die bruid.
Die pragtige bruid kom in die arm van haar pa die kerk binne.  Haar boetie behartig die klankstelsel en musiek.  Die bruid is asemrowend mooi en haar keuse van rok komplimenteer haar slanke figuur en haar skoonheid.  Die huweliksbevestiging begin en almal sit aandagtig en luister.
Die vroulike gas langs Herkie pomp hom in die ribbes en stop ‘n paar pepermente in sy hand.   Hy mompel ‘n onseker dankie en wonder of hy na drank ruik daarom dat sy vir hom  pepermente gee.  Hy gee een aan vir Christina en prop self een in sy mond.
Hy haal omtrent nie asem nie.  Hy probeer baie subtiel uitasem sodat die whisky en rooiwyn dampe nie aanstoot gee nie.  Hy slaak n groot sug van verligting toe die seremonie uiteindelik verby is.
Buite is die sjerrie fonteintjie vrolik aan die vloei.  Die gaste staan met roosblare en wag vir die bruid en bruidegom om te verskyn.
Herkie staan langs sy seun Jan.  “Ruik ek na drank?” vra hy.
“Nee, hoekom vra Pa?”
“Nee, die vrou wat langs my gesit het, het my in die ribbes gepomp en pepermente in my hand gestop.  Daarna het ek omtrent nie asemgehaal nie, selfs gevoel of die wind op ander plekke gaan ontsnap.”
Jan kyk na sy pa en bars uit in ‘n onbeheerbare lagbui.
“Ek het dit vir Pa aangestuur.”  Sukkel hy dit tussen die lagbuie uit.
Roosblare word gestrooi, gelukwensings aan ‘n pragtige bruidspaar.

En Herkie wat normaal kan asemhaal met ‘n glasie sjerrie in die hand.

(Name verander om identiteit van persone te beskerm)