Die gedagte om die Camino de Santiago te gaan stap het ontstaan na die tragedie van Raymond se dood in 2005. Die gedagte was dormant vir etlike jare totdat ek en Marinda toevallig die movie “The Way” gekyk het toe ek laasjaar Paasnaweek vir haar in London gaan kuier het. Sy het voorgestel dat ons dit gaan stap. Aanvanklik was die afstand, ongeveer 800 km, skrikwekkend en ons het maar soort van huiwerig aan die idee geknibbel.
Ons het opgelees, gewik en geweeg en die gedagte het toe ‘n besluit geword. En nou is die besluit amper ‘n werklikheid wat oor paar dae vertrek ons om die Camino te gaan stap.
So, wat is die rede om hierdie pelgrimstog te gaan doen?
Spiritueel om te probeer sin maak van die lewe en die doel daarvan?
Wat is die doel van die lewe?
Dwarsdeur mens se lewe is daar doelwitte wat gedurig verander. Korttermyn doelwitte, langtermyn doelwitte, praktiese doelwitte, werksdoelwitte, kinders grootmaak doelwitte persoonlike doelwitte en vele meer. Maar weet ons wat ons uiteindelike doelwit is?
En is dit nodig om al die moeite en voorbereiding te doen en al die geld te spandeer om ongeveer 800 km te gaan stap net omdat ‘n gedagte by jou opgekom het om dit te doen?
Dit maak nou nie meer saak wat die bewustelike of onbewustelike beweegredes is nie, die gedagte wat ‘n besluit geword het is nou ‘n obsessie.