Vroegherfs
Die jaar word ryp in goue akkerblare,
in wingerd wat verbruin, en witter lug
wat daglank van die nuwe wind en klare
son deurspoel word; elke blom word vrug,
tot selfs die traagstes; en die eerste blare val
so stilweg in die rookvaal bos en laan,
dat die takke van die lang populiere al
teen elke ligte môre witter staan.O Heer, laat hierdie dae heilig word:
Laat alles val wat pronk en sieraad was
of enkel jeug, en ver was van die pyn;
laat ryp word, Heer, laat u wind waai, laat stort
my waan, tot al die hoogheid eindelik vas
en nakend uit my teerder jeug verskyn.
Elke jaar met vroegherfs, wanneer bome verklee in warm oranje, rooi, goudgeel en bruin blare en dan ongemerk afdwarrel grond toe, kom die gedig van NP van Wyk Louw by my op. Dis ‘n mooi tyd van die jaar, met ryk, warm kleure orals, blare wat ronddwarrel in die wind en as dit ongehinderd gelaat word, verander paaie, grasperke en parke in ‘n goue blaartapyt.
As die wind waai, veroorsaak die geritsel van die blare ‘n gevoel van weerbaarheid, verganklikheid en nostalgie. Elke jaar besef ek dat die koue windjie wat hierdie blaretapyt so rond ritsel, ‘n voorspel is van groter koue. Later, wanneer bome blaarloos met lang dun vingers uitreik na bo, dan weet ek dat hierdie naakheid en weerloosheid sal verby gaan en dat nuwe heldergroen blaartjies en bloeisels gaan verskyn.
Ek besef dat soos die bome in herfs die blare laat val, so is dit nodig om oortollige bagasie agter te laat. Soms is dit nodig om gestroop te word waaraan ons vashou, ons waardigheid, dit waarmee ons veilig voel en staan ons soos ‘n boom sonder blare, nederig in die besef dat ons nie werklik alles nodig het wat ons saam dra nie.
Want daar wag ‘n lente vol geur en vars groen blare.