Jy was ‘n baie spesiale kat. Daar was iets aan jou wat mens laat dink het dat jy iewers in jou vorige lewe iets anders was. Nie dat ek glo aan reinkarnasie nie. Maar dikwels het ek gevoel jy was iets in jou vorige lewe. Miskien ‘n koning. Miskien iemand met status, aansien. Miskien ‘n motor mechcanic. Jy het ‘n lewendige belangstelling in karre getoon. Almal wat hier kom kuier het se karre is deeglik ondersoek. Olielekke was jou spesialiteit. Daar was dikwels oliekolle op jou kop of rug. Die bande is gewoonlik ook goed ondersoek en veral die bumpers baie intensief beruik.
Van katte het jy niks gehou nie, het verkies om saam met die honde uit te hang. Het saam met hulle van hulle hondekos geëet en bene gekou. Saam met hulle in die voortuin gewag dat ons moes huis toe kom Ek het vyf “honde” in die middag kos gegee, die vier honde en vir Brakanjan.
Jy was die baas van die buurt. Jy het ander katte deeglik op hulle plek gesit. Dikwels het jy maar lelik verniel hier by die huis aangekom. Partykeer was jy weg vir ‘n dag of drie. Totdat Swartkat haar opwagting in ons lewens gemaak het.
Om een of ander onverklaarbare rede was jy bang vir haar. Ons het gespot, nuwe Suid-Afrika, swart vrou versus wit man.
Jou favourite, favourite uithang plek was twee huise op, by die die dominee se vrou wat ook ‘n dominee was. Sy het jou behoorlik gepamperlang. Geborsel. Biltong en droewors gevoer. Baie liefde daar gekry. Todat hulle getrek het. Jy moes nogal verward gewees het want jou kuierplek was daar maar nie meer die mense nie. Sy het jou ook baie gemis darem gereeld vir jou kom kuier.
Dikwels het ons in die oggend wakker geword met die gang wat vol voëlvere lê, en ander kere die stert en kop van ‘n muis. In jou jonger dae het jy triomfantlik met jou vangs deur die venster gespring, en miaau geluide gemaak wat amper soos ‘n brul geklink het. Jy het vir ons kom wys wat jy gevang het. Dikwels het die prooi nog gelewe en was dit ‘n onbegonne taak om die slagoffer by jou af te neem en is jy met prooi en al net by die deur uitgesit.
Ons was almal lugtig vir jou want jy kon nogal vicious wees. As iets jou getrigger het dan het jy aangeval. Gryp iemand aan sy been en byt en klou sodat jy soos ‘n vel afgeskud moes word. Ons was maar versigtig vir jou. As jou oë rooi skyn het ons geweet hier kom moeilikheid.
Jy was mal oor Sondagmiddagetes, het altyd gesorg dat jy op iemand se stoel gaan sit, veral as ons buite onder die peperboom gebraai het. Baie stukkies hoender, skaapjtops en wors is deur jou verorber.
Jy het gesien hoe die kinders groot word, klaar maak met skool en universiteit, die huis verlaat. Intussen het jy ouer geword soos almal van ons, maar nog steeds jou status as baaskat van die buurt gehandhaaf. Baie baklei baie wonde opgedoen. Dikwels veearts toe met absesse. Jy het gewoonlik saam met die honde agter my aangeloop as ek in die middag van die werk af kom en gaan kyk of die swembad moet aandag kry. Jy het saam met die honde die swembad skoonmaak proses dopgehou.
Jy het dikwels hier in die tuin geslaap, opgerol in ‘n bondeltjie. Ander kere het jy net gesit .
Toe word jy siek, eers was dit verkoue, later was dit onsteking in jou mondslymvliese, jy word maer. Dokter besluit om jou te toets vir katvigs en leukemie. Diagnose katvigs. Oorgedra deur speeksel in bakleierey met ander katte. Prognose terminaal. Lewenskwaliteit kan gehandhaaf word deur maandelikse inspuitings van kortisoon, antibiotika, Vitamine B. Elke maand gaan ons veearts toe, jy haat dit nes ek. Jy is altyd erger na so ‘n besoek maar daarna kry jy weer lewe.
Dis belangrik dat jy eet. Ek kry vir jou spesiale kos by die veearts, koop vir jou steak, maalvleis, tuna en ander lekker katkossies. Jy was mal oor Woolies hoender. Gewoonlik as ek hier gestop het by die huis het jy die hoender geruik en aangedraf gekom.
Jy begin in die nagte om by my te kom slaap. Iets wat jy nie gewoonlik doen nie. Ek word wakker in die nag van jou wat die water uit my glas uit water drink al spinnende. Jy het lekker geslaap by my voete saam met die ander twee hondjies en toe skielik kom jy nie meer nie.
Die laaste rukkie van jou lewe was sad. Jou uurglasie het begin leegloop. Jy het al hoe maerder geword ten spyte van die medikasie en die moeite wat ek gedoen het met jou kossies. Jy het nie meer agter ons aangeloop swembad toe nie. Dit het begin winter word en ek het vir jou ‘n elektriese heating pad gekoop. Aanvanklik het jy net ‘n rukkie op dit geslaap in die nag en dan het jy uitgegaan en ek het altyd gewonder waarheen gaan jy in die middel van die nag. Loop jy rond gaan jy iewers anders slaap? Ek dink daardie nagte buite in die koue het jou nie goed gedoen nie. Al het ek jou gaan soek kon ek jou nie kry nie. Waar was jy?
En toe begin jy verander. Jy gaan nie meer uit in die aand nie en slaap die hele tyd op jou heating pad. Selfs in die dag. Jy begin minder eet. Ek raak bekommerd. Ek hoor hoe jy hoes in die nag. Iets nuuts wat jy nie voorheen gedoen het nie. Raak alhoemeer bekommerd oor jou. Ek kom vroeg huis toe want ek wonder oor jou. Ek raas met jou omdat jy nie jou kos wil eet nie, met jou siek lyf oor my stoof en kaste loop.
Ek is jammer dat ek met jou geraas het.
Ek koop weer Woolies hoender. Jy stel belang maar kom nie aangedraf nie. Ek sny ‘n sappige duitjie in stukkies wat jy alles op eet. Dit was jou laaste ete.
Deur die nag was jy naar. En het jy opgegooi. Ek het geweet dis nou die laaste sandjies wat deurloop. Toe jy nie wou eet nie tenspyte van die veearts se inspuitings het ek geweet die tyd is verby.
Ek gaan jou spore in die bad mis. Jou spore op my kar, jou teenwoordigheid in die tuin.
Maar ons sal jou altyd onthou vir die spesiale kat wat jy was, die spesiale plekkie wat jy in ons harte het. Jy het ons lewens verryk met jou lewenslustigheid en lewendige belangstelling in alles om jou.
Tata Brakanjan.